Die Christchurch-aanval van 2019 het by die Al Noor-moskee en die Linwood Islamitiese sentrum in Christchurch, Nieu-Seeland plaasgevind.[1] Die aanval het om 13:40 op 15 Maart 2019 NZDT (00:40 UTC) tydens die gebruiklike Vrydaggebed begin. 51 mense is in die skietaanval dood.[2][3][4] Die polisie het twee motorbomme opgespoor en onskadelik gestel.[5]
Brenton Tarrant, 'n 28-jarige Australiese man, wat in mediaberigte as 'n aanhanger van wit meerderwaardigheid beskryf word, is gearresteer en is aanvanklik van een moord aangekla.[6][7][8][9] Tarrant is later aangekla van 51 moorde, 40 gevalle van poging tot moord en die pleeg van 'n terroriste-daad.[10] Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte, met die verhoor wat na verwagting in Junie 2020 sal begin.
Die aanvalle is gekoppel aan 'n toename in wit meerderwaardigheid[11][12] en die regse ekstremisme wêreldwyd wat sedert ongeveer 2015 waargeneem is.[13][14] Politici en wêreldleiers het die aanvalle veroordeel[15], en eerste minister Jacinda Ardern het dit beskryf as 'een van Nieu-Seeland se donkerste dae'.[16] Die regering het 'n koninklike kommissie van ondersoek ingestel na die veiligheidsagentskappe ná die aanvalle, wat die dodelikste massaskietery in die moderne geskiedenis van Nieu-Seeland was.[17][18]